Monday 18 May 2009

Beendere uit grafte dalk vir moetie gesteel

Nelspruit. – Grafskenders het ’n tweede keer in ses weke op die Kaapsche Hoop-begraafplaas, suid van Nelspruit, toegeslaan.

In die jongste voorval is drie grafte oopgegrawe en die beendere is volgens die polisie vermoedelik verwyder.

Die grafskenders het die grafstene erg beskadig.

Dit kom nadat grafskenders ses grafte net voor die Paasnaweek omgedolwe en weer gedeeltelik toegegooi het.

Niemand is nog in verband daarmee aangekeer nie.

Die Universiteit van Pretoria (UP), wat opgrawings gedoen het, het bevind dat al die beendere uit die ses grafte waarmee gepeuter is, verwyder is.

Die Ngodwana-polisie ondersoek klagte van grafskending.

Die UP gaan môre weer opgrawings in die begraafplaas doen om te bevestig dat beendere in die jongste voorval ook verwyder is, het konst. Ngwako Kgofelo, woordvoerder van die Ngodwana-polisie, die naweek gesê.

Hy het gesê die polisie vermoed die beendere word gesteel vir moetie.

Die beendere word onder meer fyngemaal en misdadigers strooi byvoorbeeld voor ’n rooftog die fyngemaalde beendere oor hul lywe omdat hulle glo dit gaan hulle beskerm teen arrestasie of ander probleme.

Volgens Kgofelo is die polisie al raadop met die probleme by die Kaapsche Hoop-begraafplaas.

“Ons dink daaraan om die naburige Nelspruit-munisipaliteit te nader en te vra om dit te oorweeg om ’n draad om die begraafplaas op te rig,” het Kgofelo gesê.

“Die gemeenskap van Kaapsche Hoop kan ook dalk help met die beveiliging.” -- BEELD, 17 Mei 2009.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...