Wednesday 25 June 2008

DIE NOODSAAK EN NUT VAN DIE GESPREKSGROEP, SAGENEALOGIE


Dit verbasend hoeveel mense in die genealogie belangstel, maar nie weet dat daar hulp is nie. Gevolglik sterf hul belangstelling dikwels asook die bydrae wat hulle tot die genealogie kon gemaak het.

‘n Antwoord hierop, ten dele, is om by SAGENEALOGIE (kortom: SAGEN), ‘n Afrikaanse Genealogiese Geselsgroep, aan te sluit. Hier is nie minder nie as 846 lede (tans) wat mekaar daagliks help om onder meer hul voorouers en ander familie op te spoor. Daar is ook dikwels interessante en stimulerende debatte oor aspekte in die genealogie.
Lidmaatskap is gratis.


Onder die lede is manne en vroue wat die genealogie al jare lank beoefen, maar ook nuwelinge.

Neem kennis: dié groep sal nie jou stamregister saamstel nie. Jou werk bly jou werk, maar jy sal baie waarskynlik hulp kry.
Moenie verwar word met  
SAGenealogie se webwerf en  
SAGenealogie se gespreksgroep (ook genoem poslys) nie.
  • Die webwerf verduidelik waaroor alles gaan:  die agtergrond, die doel, die taalbeleid en hoe om aan te sluit en
  • Die geselsgroep is waar boodskappe (vrae en antwoorde) geplaas word – ‘n poslys.
Dennis Pretorius (regs), een van die land se voorste genealoë, is die skepper van hierdie nuttige gebruiksmiddel. Hy word deur ‘n knap bestuurspan bygestaan.
Op die webwerf word die doel soos volg uiteengesit:
  • Om die geleentheid te bied om ons genealogiese doelwitte te bereik;
  • Om dit in 'n atmosfeer te doen waar ons vriende kan maak en bly en
  • Om ons kennis met mekaar te deel om sodoende meer mense bloot te stel aan ons passie.
Alvorens u by SAGENEALOGIE aansluit, gaan lees eers die inhoud van die webwerf. Klik HIER. Daar is ook verskeie handige skakels na ander webwerwe.
Daar is duidelike riglyne oor die moets en moenies van die gespreksgroep. Advertensies, sinnelose boodkappe, persoonlike aanvalle en politieke gesprekke is verbode. As ‘n lid oortree, sal hy/sy deur die lyseinaars aangespreek word en lidmaatskap van die poslys mag selfs beëindig word.
Om by SAGENEALOGIE aan te sluit, kan een van twee weë gevolg word:
SAGENEALOGIE was in Desember vanjaar agt jaar oud. In dié tydperk was daar al duisende navrae en antwoorde. Die tabel hieronder toon ‘n geskiedenis van die hoeveelheid boodskappe wat al daar verskyn het. Dit vertel ‘n verhaal van welwillendheid en hulpvaardigheid.

Alle antwoorde op navrae word nie noodwendig op die gespreksgroep (poslys) geplaas nie. Lede kry dikwels antwoorde wat na hul private epos-adresse gestuur word. Die hulp wat uit SAGENEALOGIE voortvloei, is dus veel meer as wat die tabel weerspieël.

Al hierdie boodskappe (na raming 75 000)
is nie verlore vir diegene wat nou eers aansluit nie.
Hulle kan almal, volgens u keuse, deurgesoek word
 
Maak só:
  • Gaan na die Poslys (Messages).
  • Heelbo of heelonder is ‘n blokkie “Search”. (Sien die diagram hieronder.)
  • Gestel u wil al die boodskappe sien wat al oor die familienaam (van), Ferreira, geplaas is.
  • Tik "Ferreira" in (sonder die aanhalingstekens). Dit sal 975 (tans) boodskappe wys.
  • Tik "Jan Christoffel Ferreira", byvoorbeeld, in en die resultaat word na 80 (tans) boodskappe verminder.
  • Tik "Jan Christoffel Ferreira Bloedrivier", byvoorbeeld, in en die resultaat word na 8 (tans) verminder.
  • Met die “Newer”en “Older” (regs van "Search") kan u tussen hulle rondsoek.
 

'n Magdom inligting wag om gevind te word.
Dis voorwaar een van Suid-Afrika se voorste, vriendelikste en nuttigste genealogiese gebruiksmiddels. Bowe alles: hier maak ‘n mens vriende – oor die hele wêreld.
WENK: Nadat u intekening goedgekeur is, het u die keuse of u elke dag nuwe boodskappe individueel of in groepe (digest) wil kry. Om u keuse te maak, doen die volgende:

  • Gaan na die Poslys (Messages);
  • Klik op “Edit membership”. Dit is klein geskryf. ‘n Mens sien dit skaars raak. Die rooi pyltjie hieronder dui dit aan; 
 
  • Kies tussen “Individual Mail” of “Daily Digest” onder “Step 2”.
  • “Step 1” en “Step 3” het ook belangrike keuses om te maak.

Saturday 14 June 2008

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (13)

‘n Merkwaardige Familie

Deur Lucas Rinken


Hoor of lees ‘n mens van die familienaam SCHREINER, dink ‘n mens dadelik aan Olive, die internasionaal bekende skryfster van “The Story of an African Farm”. Sy was ‘n merkwaardige vrou.

Olive Emilie Albertina SCHREINER (links) , gebore 24.3.1855 op “Wittebergen”, Herschel in die Kaap en oorlede op 11.12.1920 op Wynberg, Kaapstad is op 26.2.1894 op Cradock getroud met Samuel Cron CRONWRIGHT, die kleinseun van Eerwaarde Peter WRIGHT, ‘n sendeling van Philippolis. Sy vrou was Margery CRON. Só word hul kleinkinders toe bekend as CRONWRIGHT. (Foto: Wikipedia)

Olive was vernoem na haar drie broers wat voor haar dood is, naamlik: Oliver (1848-1854), Albert (1843-1843) en Emile (1852-1852).

Later het ‘n ander bekende Suid-Afrikaanse outeur toe sy naam verander van Samuel CRONWRIGHT na CRONWRIGHT-SCHREINER.

Olive was, volgens SAG die sewende van agt kinders van Gottlob SCHREINER gebore op Fellbach, Wurtenburg op 6.8.1814, ‘n sendeling van “The London Missionary Society” en Rebecca LYNDALL van Engelse afkoms. Volgens “African History ex About.com” was sy die negende van twaalf kinders uit hierdie arm sendelinggesin.

Olive was ‘n uitgesproke ondersteuner van feminisme, sosialisme en passifisme en ‘n kritikus van Europese imperialisme. Sy was selfopgevoed en beïnvloed deur die werke van filosowe soos Herbert Spencer en John Stuart Mill en die natuurkundige, Charles Darwin. Dit was deur sodanige leesstof dat sy haar vooruitstrewende lewensuitkyk ontwikkel het. Sy het ook haar familie se godsdiens verwerp.

In 1874 het sy voltyds as governante begin werk -- vir sewe jaar by vyf verskillende vermoëende Afrikaanse families terwyl sy in haar spaartyd begin skryf het. Met die hulp van haar vriendin, Mary Brown, ‘n uitgesproke Britse liberale feminis, is sy na Engeland om as verpleegster opgelei te word en om haar novelle gepubliseer te kry. Ongelukkig het die asma wat sy op die Kimberley diamantvelde opgedoen het, in Engeland kronies geword en haar verhinder om mediese opleiding te ondergaan.

As gevolg van destydse vooroordeel, is haar boek in 1883 onder die skuilnaam Ralph Irons uitgegee en het sy internasionale erkenning ontvang as die eerste realiste beskrywing van lewe in Suid Afrika. Sy is gou opgeneem in die geselskap van vooraanstaande jong sosialiste soos Eleanor Marx, WE Gladstone, George Bernard Shaw en Edward Carpenter.

Die kroniese asma het genoodsaak dat sy in 1889 na Suid-Afrika teruggekeer het om in die skoon lug van die Karoo te woon op Matjiesfontein. Sy is toe is met ‘n volstruisboer getroud.

Mettertyd het die verhouding egter afgekoel en het haar man besluit dat sy na Johannesburg moes verhuis, aangesien die hoogte bo seespieël goed vir haar sou gewees het. Hier het sy maklik toegang verkry tot vooraanstaandes, insluitend President Paul Kruger.

Die ABO was egter vir haar verwoestend -- haar huis is geplunder, haar dokumente verwoes en sy is vir ‘n jaar geïnterneer as gevolg van haar openlike ondersteuning vir die Boeressaak.

Intussen het haar broer, William (links) , Prokureur-Generaal geword in Cecil John Rhodes se regering aan die Kaap. Hy het later ook Eerste Minister van die Kaapse Regering geword. Hy word beskryf as een van die mees uitstaande seuns van Suid-Afrika. "A moral and intellectual giant and a leader of his profession, he was never prepared to compromise his principles of justice and his insistence on fair play for the country's black community.” (Foto Wikipedia)

Hy trou op 3.1.1884 op Swellendam met Frances Hester REITZ gebore 20.10.1852, jonger suster van President FW REITZ. Haar moeder was Cornelia Magdalena DENYS vanwaar die naam van haar jongse seun, Oliver Deneys SCHREINER, en Kol. Deneys REITZ, welbekende seun van die President en skrywer van boeke soos “Commando”, “Trekking On” en “No Outspan”.

Oliver, gebore 29.10.1890 is in Kaapstad en Cambridge opgelei waar sy studies deur die Eerste Wêreldoorlog onderbreek is. Hy het offisier in ‘n Britse Regiment geword en diens gedoen in Frankryk waar hy die “Military Cross” toegeken is. Hy is in 1920 tot die Johannesburgse Balie toegelaat en was vanaf 1945 tot 1960 in Bloemfontein Àppelregter. Hy was ook kanselier van die Universiteit van Witwatersrand van 1961 tot 1974. Hy is op 6.5.1919 getroud met Edna Lambert FINCHAM.

Sy ouer broer, William Frances Reitz SCHREINER gebore 19.4.1886 op Claremont, was ook tot die Balie toegelaat maar sy groot liefde was rugby. In 1909 was hy die kaptein van die “SA College School”-span en later kaptein van Villages en hy het vir die WP gespeel.

In 1912 was hy ‘n aktiewe speler op 28-jarige ouderdom, maar het sy lewenstaak begin as lid van die Suid-Afrikaanse keurkomitee en het gehelp om die span te kies vir die tweede Springboktoer na die Britse Eilande. Hy was 31 jaar lank voorsitter van die nasionale keurkomitee. Hy was keurder vir 40 jaar -- ‘n unieke rekord. Saam met ‘n neef, George GIE, het Bill SCHREINER so te sê die Kaapse rugby tussen 1911 en 1920 beheer. In AC Parker se boek, Giants of South African Rugby word Bill as een van dié "reuse" bestempel -- saam met spelers soos Danie Craven, Oubaas Markotter, Boy Louw, Bennie Osler, Phil Mostert en Japie Krige.

Een van President FW REITZ se susters was Barbara Johanna REITZ gebore 5.9.1835. Sy het op 15.11.1854 getrou met Johan Coenraad GIE gebore in Kaapstad op 19.1.1827. Hul vierde seun was George Gerhard GIE gebore 4.9.1865 en getroud met Charlotte Elizabeth STEYTLER. Sy neef Bill was nooit getroud nie.

Ek het begin by Olive en ek sluit ook met haar af. Nadat sy vrygelaat is uit internering het sy begin om haar notas weer bymekaar te bring. Haar boek, “Women and Labour” is in 1911 gepubliseer. “The book became the feminist ‘bible’ of the early twentieth century”.

In 1914 wou sy deur Italië toer vir mediese behandeling maar moes, as gevolg van die Eerste Wêreldoorlog, na Engeland uitwyk waar sy die regte van diensweieraars (“conscientious objectors”) ondersteun en ‘n verdere boek geskryf het “which examined pacifism within a developing feminist and socialist moral framework.”

Bo: Samuel Cron CRONWRIGHT, Olive Schreiner se man, by die drie kiste van haar, haar babadogter en haar hond. Samuel is later ook hier begrawe. (Foto: www.karooheartland.com/cradock.htm).

In die herfs van 1920, oortuig dat sy na aan sterf was, het sy na Suid-Afrika teruggekeer. Binne ‘n paar maande is sy aan ‘n hartaanval dood. Op haar versoek is sy saam met haar babadogter en haar hond in ‘n klip grafkelder op ‘n berg in die Karoo begrawe -- sy het grond by Buffelshoek naby Cradock vir hierdie doel aangekoop. Duisende het die langs die spoorlyn gestaan toe haar oorskot daarheen geneem is.

Generaal JC SMUTS het haar as “’n nasionale bate” beskryf.


Friday 13 June 2008

MAANDVERGADERING: 21 JUNIE 2008

Datum: Saterdag, 21 Junie 2008

Tyd: 14:00 tot 16:00

Plek: NG Kerk, Ontdekkerskruin, Phillipslaan, Ontdekkers, Roodepoort
(Padkaart onder)

Onderwerp: HOE OM, VIR GENEALOGIESE NAVORSING, ARGIEF-GERIEWE DIE BESTE TE BENUT

Aanbieder: Dennis Pretorius

Verkorte CV: Dennis is:

  • 'n Vooraanstaande genealoog, veral toegespits op die PRETORIUS-, SCOTT- en McDONALD-families;
  • 'n Lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee van die GGSA;
  • Lyseienaar van SAGen, ‘n gewilde Afrikaanse genealogiese internet- gespreksgroep;
  • 'n DA-raadslid van Mogale City (vroeër Krugersdorp);
  • 'n Lid van die Krugersdorpse Rotariërklub;
  • ‘n Direkteur van Mogale-toerisme en mede-aanbieder van die jaarlikse Mej. Wesrand-kompetisie.
  • ‘n Voormalige voorsitter en tesourier van die Wes-Gauteng-tak van die GGSA;
  • ‘n Toerorganiseerder/toergids.
Toegang: R5,00 vir verversings.

KLIK OP DIE KAART OM DIT VERGROOT
(BRON: Mail and Guardian Online)

Thursday 12 June 2008

FAMILY RESEARCH TOUR TO GERMANY, SEPTEMBER 2009

A tour to Germany to visit archives, museums and historical sites of relevance to family researchers is being planned for September 2009. The tour will last for approximately 14 days and the tour programme will be determined by the research interests of tour participants. The focus of the tour will be on family history research. Sight-seeing visits for partners not involved in family research will be arranged wherever possible.

The tour presents an ideal opportunity for researchers who have links to families in Germany to join with others with similar interests and to visit the country without themselves having to make the necessary tour arrangements.

The tour is being organised by the Northern Transvaal Branch of the Genealogical Society of South Africa. Those interested should please contact Ellen Harmse at 072 594 9050 or eharmse@mweb.co.za as soon as possible and not later than 31 October 2008.

GENEALOGIESE TOER NA DUITSLAND, SEPTEMBER 2009

‘n Toer na Duitsland waar argiewe, museums en ander plekke van belang vir die navorsing van familiegeskiedenis word vir September 2009 beplan. Die toer sal ongeveer 14 dae duur en die toerprogram sal bepaal word volgens die belange van toergangers. Die fokus van die toer is familiegeskiedenisnavorsing. Besoeke aan besienswaardige plekke sal, waar moontlik, gereël word vir metgeselle wat nie by familienavorsing betrokke is nie.

Die toer bied ‘n gulde geleentheid aan familienavorsers aan om met navorsers met soortgelyke belange kennis te maak en om Duitsland te besoek sonder dat hulle self die nodige toerreëlings hoef te maak.

Die toer word deur die Noord-Transvaal Tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika gereël. Persone wat belangstel word gevra om vir Ellen Harmse so gou as moontlik, en nie later nie as 31 Oktober 2008, te kontak by 072 594 9050 of eharmse@mweb.co.za.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...