Sunday 21 September 2008

NUWE WEERGAWES VAN TWEE DATABASISSE

300 000 GRAFTE SE DATA

Die Begraafplaasprojek (Cemetery Recording Project) van die GGSA het ‘n wonderlike mylpaal behaal: teen die einde van September 2008 sal dié databasis gegewens oor nie minder nie as 300 000 grafte in Suid-Afrika bevat.

Dié aankondiging is Saterdag, 20 September 2008, deur Peter Moss (links) wat aan die stuur van die projek is, by ‘n vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die GGSA bekendgemaak.

Die Wes-Gautengtak was die gasheer van dié vergadering.

Volgens Peter sal die sewende weergawe van die projek by die GGSA se volgende Algemene Jaarvergadering in 2009 vrygestel word.

Die omvang daarvan is nou van so ‘n aard dat dit waarskynlik nie meer meer op ‘n CD sal pas nie. Gevolglik sal dit op ‘n DVD vrygestel word.

Die huidige sesde uitgawe bevat na raming 250 000 grafte se besonderhede (teenoor die 300 000 van aanstaande jaar se nuwe weergawe). Dit kan bestel word by André Heydenrych, nasionale tesourier van die GGSA. Sy epos-adres is: aheydenr@mweb.co.za. KLIK HIER as u nóú 'n epos aan André wil stuur.

Vir die oningeligtes: die Begraafplaasprojek behels die optekening van grafte van veral plase en kleiner dorpies in Suid-Afrika.

Bywerkings word deurentyd gedoen.

400 000 PERSONE SE DATA

‘n Tweede groot prestasie is die aankondiging van Lucas Rinken (links) dat elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks (e-SAGI) se volgende weergawe 400 000 name sal bevat. Lucas is die man wat reeds jare lank aan dié databasis werk. Dit bevat data van feitlik al wat ‘n familie in Suid-Afrika is. Lucas is ook voorsitter van die Wes-Gautengtak.

Dié databasis is eweneens nou te groot vir ‘n CD. Dit sal op DVD teen R120 plus R10 posgeld beskikbaar wees.

Hierdie pryse is vir versending in Suid-Afrika. Versending na die buiteland sal groter posgeld meebring. Pryse moet met Dennis Pretorius bevestig moet word. Bestellings kan ook by Dennis geplaas word. Sy epos-adres is krugersdorp@pixie.co.za. KLIK HIER en stuur nóú 'n epos aan Dennis.

Die doel van die indeks is om aan navorsers 'n betroubare databasis te voorsien wat deurgaans opgedateer word. Data word van 'n menigte bronne ingesamel en by bestaande data gevoeg. Lucas maak nie daarop aanspraak dat die data volledig en korrek is nie. Dit is nietemin 'n uitstekende bron vir diegene wat op soek is na vertrekpunte om familie te vind.

Die databasis bevat sowat 144 000 families en sluit altesame 25 500 vanne in. Sommige vanne is egter gedupliseer as gevolg van verskillende spellings. As voorbeeld noem Lucas dat daar De Wet en de Wet is. Vir die rekenaar is dit twee verskillende spellings. Een van sy take is juis om al die data te standaardiseer.

Een van die groot voordele van eSAGI is dat die data op 'n moderne rekenaarprogram (Legacy) geplaas is. Dit bring mee dat familieverbintenisse tussen mense met verskillende vanne geïdentifiseer word. Anders gestel: met die koppelings wat Lucas tussen families (met die rekenaar) maak, "ontdek" die rekenaar nog meer koppelings wat 'n mens andersins moontlik nooit van sou geweet het nie.

Vergelyk dit met boeke wat stamregisters weergee. Boeke bevat hoofsaaklik die name en data van mense met 'n spesifieke familienaam (van) asook die persone met wie hulle getroud was. Soms word die ouers van laasgenoemde (m.a.w die skoonouers), genoem. Daar hou dit op.

Met eSAGI word al die ooreenstemmende name van baie verskillende stamregisters gekoppel.
  • 'n Persoon se stamregister word dus aan die stamregisters van sy skoonouers gekoppel.
  • Vir dieselfde persoon se kinders beteken dit dat hul stamregister aan hul oupas en oumas aan hul ma se kant gekoppel word.
Sodoende kan 'n mens 'n baie meer uitgebreide familie ontdek -- en sodoende daardie voorouer of ander familie vind waarna al so lank gesoek word.

Lucas bestee daagliks baie ure aan dié projek. Die opbrengs uit verkope gaan aan die Wes-Gautentgtak van die GGSA.
  • Hierdie twee databasisse is van groot waarde. Menige genealoog het met inligting wat hierdeur bekom is, hul voorsate en waardevolle inligting gevind.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...