Monday 8 September 2008

SAG-CD's IN 2009 BESKIKBAAR

  • Suid-Afrikaans Geslagregisters (SAG) se volume 17 (die laaste vanne tot Z) behoort teen November 2008 te verskyn;
  • Die vrystelling van SAG-CD's sal hopelik in die eerste helfte van 2009 realiseer.
Hierdie goeie nuus het prof Christo Viljoen, onder-voorsitter van beheerraad van die Genealogies Instituut van Suid-Afrika (GISA), gisteraand aan die Wes-Gautengtak bekendgemaak.

Hy was genader na aanleiding van 'n berig wat hy op 28 Augustus 2008 op SAGEN geplaas oor die omvattende werk aan SAG waarmee GISA tans besig is. Daarin het hy 'n perspektief oor SAG uiteengesit.

Prof Viljoen het hy soos volg geskryf:

"Wanneer die laaste volume van SAG is, is die reeks vanaf A tot Z voltooi. Dit is 'n mylpaal wat geen ander land nog op die gebied van die genealogie bereik het nie.

"Die eerste vier volumes van SAG (dws vanaf vanne A tot K) is nie deur GISA uitgegee nie, maar deur die Raad op Geestelikwetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria voltooi, met wyle dr JA Heese as redakteur.

"Nadat die RGN sy Afdeling Genealogie gesluit het, is GISA tien jaar gelede gestig en het dit vanaf volume 5 (L - M) aan die SAG reeks voortgewerk.

"Dr Heese se oorspronklike doelwit was bloot om die bloedsamestelling (afkoms) van die Afrikaners vas te stel. Vir daardie doel het hy net belang gehad by die eerste tweehonderd jaar ná die volksplanting. Dit is waarom hy van die kerkrekords gebruik gemaak het en die reeks in 1850 afgesluit is. Die uiteindelike uitgee van die SAG reeks was 'n uitvloeisel van sy oorspronklike oogmerk
.
Vóór die rekenaar

"In die dae voor die rekenaar was alles eers noukeurig op indekskaartjies aangeteken en vandaar per hand in geslagregisters gegiet -- voorwaar 'n monumentale taak wat jare in beslag geneem het. Ek het oneindig baie waardering vir wat wyle dr Heese vermag het met dit tot sy beskikking.

"Dit moet onthou word dat die eerste vier volumes van SAG byna uitsluitlik uit die handgeskrewe Heese-manuskripte saamgestel is -- natuurlik ook met uitsonderings. Wyle dr Heese het buiten De Villiers & Pama se drie dele hoofsaaklik gebruik gemaak van die Kaapse NG Kerk rekords, dws dope en huwelike tot om-en-by 1850 (wat saamval met die Groot Trek). Dit verklaar ook waarom daar so min sterfdatums in die eerste vier dele voorkom.
Hersiening
"GISA se beheerkomitee het besluit dat, sodra die SAG reeks voltooi is, daar met die hersiening van die reeks begin sal word, ook met die oog op die eventuele beskikbaarstelling daarvan via elektroniese middele. Die afsnydatum sal ook later wees as die aanvanklike 1850, dws tot vroeg in die 20st eeu -- ongeveer 1930. Die aanvoorwerk met die hersiening is reeds aan die gang met SAG-1, dws vanne wat met "A", "B" en "C" begin.


891 bladsye se B-vanne

"Die werk is nog lank nie klaar nie. Een voorbeeld illustreer die aansienlike uitgebreidheid van die hersiene reeks: einde Julie vanjaar (toe die De Beer inligting nog nie afgehandel was nie) het die "B"-vanne tot by Bosman 'n allemintige 891 bladsye beslaan. Vergelyk hierdie omvang met die oorspronklike totaal van 428 bladsye met "B"-vanne in SAG vol. 1.

A-vanne
"Die bygewerkte "A"-vanne op GISA se databasis staan nou reeds by nagenoeg 250 bladsye (en word nog daagliks bygewerk tot 1930 en aangevul met bydraes uit die publiek en ander ongepubliseerde bronne).

C-vanne
"Die "C"-vanne het in SAG volume 1 uit 168 bladsye bestaan. Die bygewerkte databasis van "C"-vanne staan reeds op 795 bladsye en nog is dit die einde nie.

Geen Winsoogmerk
"GISA is 'n nie-winsgedrewe organisasie en ontvang geen subsidies of staatsteun nie. Ek hoop dat hierdie inligting 'n beter perspektief sal gee op die goeie werk wat met min personeel en fondse vermag word."

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...