Friday 4 July 2008

BUS RY OOR 25 GRAFTE IN PRETORIA

’n Bus van die Tshwane-metroraad se busdiens het deur die palissadeheining van die Ou Begraafplaas in Pretoria-Wes gebars, oor 25 grafte gery en kort voor die graf van die skilder J.H. Pierneef gestop.


’n Lid van die Tshwane-metropolisie wat op die toneel was, het gesê die busbestuurder het omstreeks 06:00 vanuit die Tshwane-metroraad se busdepot in Kerkstraat gery. Sy wou glo regs draai in Kerkstraat om pendelaars in die stad te vervoer.


Volgens dié metropolisielid het die busbestuurder gesê die bus se remme het geweier, waarna sy beheer oor die bus verloor en reguit oor die straat deur die begraafplaasheining gery het.


Die busbestuurder is nie beseer nie en na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar sy vir skok behandel is.


Die busbestuurder het sowat 30 m van waar sy die begraafplaas deur die palissadeheining ingejaag het, ’n skerp draai na regs gemaak en minder as 20 m verder teen ’n boom tot stilstand gekom.


Pierneef se graf is aan die ander kant van dié boom.


Die busbestuurder het 25 grafstene in die proses beskadig. Die familiegrafte van oudpres. Paul Kruger, wat sowat 50 m van die toneel af is, of die Heldeakker-begraafplaas, wat binne die Ou Begraafplaas is, is nie beskadig nie.


Die grafte wat wel beskadig is, is dié van pionierfamilies wat in die 19de eeu in Pretoria gewoon het.


Dr. Murunwa Makwarela, uitvoerende direkteur van strategie van die departement van landbou en omgewing in die Tshwane-metroraad, het gesê van die grafte wat beskadig is, is meer as 100 jaar oud.


“Dié begraafplaas is ’n nasionale erfenis. Die plek is vir ons heilig en het sentimentele waarde.


“Ons sal seker maak die grafte word so gou moontlik herstel sodat dit lyk soos dit oorspronklik was.”


’n Ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. – Beeld, 4 Junie 2008.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...