Friday 21 March 2008

'N ERNSTIGE WAARSKUWING

Die volgende belangrike "lesse" het onlangs op SAGenealogie verskyn:

Christo Viljoen: Net om julle daaraan te herinner om gereeld rugsteunkopieë van jul genealogiese data te maak, en dit op 'n ander stoormedium as die hardeskryf waarop die data voorkom. Ek het pas, vanweë 'n spanningspits in die kragtoevoer, sowel die kragbron as die hardekskyf van my rekenaar verloor. Dit is die slegte nuus, en dat die herstel daarvan 'n paar honderd rand sal kos. Die goeie nuus is dat die data op die foutiewe hardeskryf herwin kan word.

Ek maak gereeld rugsteunkopieë van my data (en stoor dit op 'n eksterne hardeskyf), maar die laaste rugsteun wat ek gemaak het, was vroeg in Januarie gedoen. Sedertdien het ek baie nuwe genealogiese inligting bygevoeg, en dit sluit nie die genealogiese fotos in nie.

Dus: maak gereeld (weekliks!) 'n rugsteunkopie. Dit sal verhoed dat julle, soos ek 'n kommervolle naweek deurbring in afwagting van die nuus of die data herwin kan word, of nie. Dit sou 'n ramp wees as ek nie al die inligting kon herwin nie. Sodra ek my rekenaar terug ontvang, maak ek tweede rugsteunkopieë van alle fotos, ens. op kompakskyf.


Susan Viljoen, Alberton: Na aanleiding van Christo se ervaring, deel ek die volgende met julle vir wat dit werd is:

Tydens ons vakansie in Desember het ek my skootrekenaar saamgevat om daar 'n bietjie te kan werk aan transkripsies. Terwyl ek besig was daarmee, het die skerm skielik swart geword en daar was ‘n foutboodskap. Afsit en aansit het nie gehelp nie. Tuis het my rekenaartegnikus my meegedeel dat my hardeskyf ongelukkig die lewe gelaat het en meer nog, dat dit sodanig kapot is dat herwinning van inligting onmoontlik sal wees.

Moontlik sou dit êrens tog deur ‘n ekspert teen groot koste gedoen kon word, maar gelukkig was dit nie nodig nie omdat ek juis kort voor ons vertrek van alles op daardie rekenaar rugsteunkopieë gemaak het.

Die punt is egter dat, volgens my tegnikus, ‘n skootrekenaar se hardeskyf meer blootgestel is aan moontlike heengaan sonder dat iets gered kan word as ‘n gewone rekenaar s’n, omdat die hardeskyf van ‘n skootrekenaar uitteraard meer beweging ervaar. Volgens hom is dit belangrik dat mens ‘n skootrekenaar wat in gebruik is, nie moet ronddra nie.

En dus maar, soos vir alle rekenaars waar is, gereeld die vervelige takie van rugsteunkopieë moet aanpak. En moenie jou e-pos vergeet nie! (Dis ‘n vorige les wat ek geleer het ... )

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...