Monday 18 February 2008

GISA: OORSIG VAN 2007 EN HUIDIGE AKTIWITEITE

Die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) het vandag, 18 Februarie 2008, die volgende verklaring uitgereik.

  • TWEE PUBLIKASIES
Gedurende die afgelope boekjaar, eindigende Maart 2008, kon die GISA weer eens in sy doelwit slaag om twee publikasies in die SA-Genealogie reeks uit te gee. Dit is SAG vol. 15 (vane Vis-WaL) wat in Augustus 2007 verskyn het en SAG vol. 16 (vanne Wam-Wy) wat binnekort vrygestel sal word. As 'n openingsaanbod het die drukkers hul bereid verklaar om die eerste oplaag van SAG vol. 16 teen verlede jaar se prys (d.i. R360-00 plus R50 binnelands vir posgeld en versekering) beskikbaar te stel. Alle herdukke hierna sal duurder wees. Maak dus nou reeds u inbetaling of stuur u tjek aan GISA om van hierdie spesiale aanbod gebruik te kan maak.
  • ELEKTRONIESE OPGRADERING
GISA betree 'n nuwe fase in die elektroniese eeu met die opgradering van sy fasiliteite waarmee reeds 'n begin gemaak is. Honderde DVD's waarop kerkregisters wat nie voorheen mikroverfilm was nie, is deur die Genealogical Society of Utah (GSU) aan GISA beskikbaar gestel as deel van hul omvangryke projek om uiteindelik alle SA genealogiese bronne elektronies vas te lê. Vir hierdie doel is sewe rekenaars/werkstasies ook deur die GSU aan GISA geskenk. 'n Bediener is ook aangekoop waarop hierdie data oorgelaai gaan word. Navorsers sal, sodra die opgradering voltooi is, in staat gestel word om deur die kerkregisters te blaai en afdrukke te maak van bv. 'n doop- of huwelik inskrywing vir eie gebruik. Die sewe rekenaar-werkstasies vervang sewe uitgediende mikrofilmlesers. Tot tyd en wyl word daar nog sewe lesers behou vir die soek en oplees van inskrywings op mikrofilm. Ook hulle sal uiteindelik plek moet maak vir verdere rekenaar-werkstasies sodra alle films na elektroniese formaat oorgedra is.
  • OPDATERING VAN EERSTE VIER VOLUMES (SAG-REEKS)
Daarbenewens is GISA sedert die tweede helfte van verlede jaar besig met die daarstelling van 'n databasis vir die bywerk, regstelling en opdatering van die eerste vier volumes van die SAG reeks (vanne A-K). By voltooiing sal dit inligting bevat vanaf die aankoms van die stamvader tot en met 1930. SAG vol. 1 (vanne A - C) Die bywerking is reeds in 'n gevorderde stadium. Die inhoudelike daarvan bevat meer as drie maal die oorspronklike inligting. Dieselfde toename in gegewens word ook vir die drie ander volumes in die vooruitsig gestel. Die gedagte is dat die huidige SAG-boekereeks behoue sal bly, maar dat gedeeltes of 'n kombinasie van vanne (families) op CD/DVD en/of boekvorm van GISA uit die steeds groeiende databasis bestel sal kan word.

Aangesien daar nie 'n afsnydatum sal wees waarvoor bydraes ontvang moet word nie, sal die bywerking en opdatering van die databasis op 'n deurlopernde basis hanteer sal word. Daar word beoog dat die databasis binne 'n jaar ook op internet beskikbaar gestel word, met betaalde toegang sodat navorsers van oral toegang tot die inligting kan verkry. U familie bydraes aan GISA om die opdatering en bywerking van die projek haalbaar te maak, is vir die Instituut van onskatbare waarde. Sodoende sal die die hele huidige boekereeks onder die loep kom.

'n Dringende beroep word ook op u gedoen om families of gedeeltes van families wat in voorafgaande volumes 1 tot 16 van die SAG reeks per abuis uitgelaat was (of nie beskikbaar was vir insluiting nie) ook nou aan GISA te stuur. Die gedagte is om hierdie ontbrekende families of gedeeltes van families in SAG vol. 17 (vanne X-Z en Addenda) op te neem.

  • HERDRUK
Die herdruk van die genealogiese boekereeks nrs 1-38 wat destyds deur die RGN uitgegee was en waarvan die kopiereg regtens deur die RGN aan GISA oorgedra is, geniet tans aandag. Die nasate van die Rynse sendelinge in Suid-Afrika, die Bruwer, Nienaber en Kotzee boeke is op bestellling in sagteband beskikbaar. Vier tot ses weke tyd word verlang vir die afhandeling van bestellings van herdrukke.

  • NIE-BELASBARE INSTANSIE
GISA is onlangs finaal deur SARS van belasting en aksyns (invoerregte) vrygestel wat beteken dat ons nou amptelik geregistreer is as 'n nie-belasbare instansie ("public benefit organization") in terme van deel 10 (1) (cN) van die belastingwet. Skenkers kan voortaan ook belastingkorting ontvang op skenkings of nalatenskappe aan GISA.

Leon Endemann, 18 Februarie 2008

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...