Friday 8 February 2008

ARGIEFSTUKKE STRAKS EERS NÁ 30 JAAR BESKIKBAAR

Kaapstad – Toegang tot argiefdokumente in Suid-Afrika kan moontlik met tien jaar verleng word.

Ingevolge die Wet op Nasionale Argiewe en Rekorddienste is dié dokumente ná 20 jaar beskikbaar, maar as voorstelle aanvaar word, kan dit tot 30 jaar verleng word.

Mnr. Themba Wakashe, direkteur-generaal van die departement van kuns en kultuur, het vandeesweek ’n voorlegging aan die parlement gedoen oor die hersiening van wetgewing oor erfenis, argiefdienste en biblioteke.

“Daar is ’n algemene gevoel dat 20 jaar nie genoeg is nie en dat dit tot 30 jaar verleng moet word. Ons het ook na ander argiefwetgewing gekyk en die internasionale tendens is 30 jaar. Ons gaan met ’n voorstel na die portefeuljekomitee kom dat daar ’n verlenging van 10 jaar moet wees oor die huidige beperking van 20 jaar,” het Wakashe aan LP’s gesê.

Hy het daarop gewys dat dié voorstel implikasies het. “Sommige mense sal sê ons vertraag toegang tot inligting en dat 30 jaar te veel is. Aan die ander kant is daar uitdagings met betrekking tot sensitiewe rekords soos die Waarheids- en Versoeningskommissie . . . dit is dus ’n kwessie wat aandag moet kry.”

Mnr. Piers Pigou, direkteur van nasionale argiewe, het by navraag gesê hy “ruik die hand van die Nasionale Intelligensie-agentskap”. “Só ’n stap sal teenproduktief wees vir deursigtigheid. Rekords van die pre-1990-tydperk behoort nou beskikbaar te wees.” -- Beeld, 7 Februarie 2008

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...