Saturday 19 January 2008

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (10)

Kanonne en Sterk Manne

Deur Lucas Rinken

Merkwaardige stories is in die e-SAGI (ons databasis met 357 000 rekords) vervat. Nie die minste nie is dié wat nog in die ou GenForum-dae in Julie 2001 deur Daniel Jacobs en Herman Labuschagne bespreek is. Dit het hoofsaaklik gegaan rondom b1c6d4 Gerrit VOSLOO gebore te Kaapstad op 9.10.1768. Hy het bekend gestaan as Gert Houtkannon!

Sy notas lees soos volg:

Suid-Afrika se eerste kanon is nie deur Krygkor gemaak soos oud-President PW Botha bekend gemaak het nie, laat weet ds. Willem du Toit van Graaff-Reinet. Die burgers van die ou Republiek van Graaff-Reinet het die land se eerste kanon gemaak. Ook nie sommer van alledaagse staal nie, maar uit stinkhout. Ongelukkig is die kanon nie in die dorp se museum te vinde nie, want dit het spoorloos verdwyn.

Ds. Du Toit vertel dat die jong republiek besef het hy moet 'n kanon hê om hom te verdedig. Yster was nie te vinde nie, want die republiek had geen hawe om dit in te voer nie. Die naasbeste was toe die hardste inheemse materiaal, stinkhout. 'n Reguit stomp is met beitels en bore uitgehol, met verkorte wabande versterk en op 'n wa-as en wiele gemonteer. Agter is 'n gaatjie geboor vir die lont. Die eerste skoot sou gevuur word op 'n groot spekboom teen 'n groot swart rots. Die kanon is opgestel, met 'n goeie lading buskruit gestop, toe 'n klompie stoplappe en daarna stukke yster en spykers. Die man wat gekies is om die lont aan die brand te steek, was Koos Venter. Dié het blykbaar nie veel vertroue in die houtloop gehad nie, want hy het in 'n loopgraaf gaan lê en met 'n lang bamboesossweep die lont aan die brand gesteek.

Daar was 'n slag soos die dorp nog nooit gehoor het nie. Die bobbejane het op Spandaukop so op loop gesit dat hulle dae later eers weer opgemerk is. Die spekboom was nog daar, maar die kanon was skoonveld. Seker dié dat ons nou weer vir die eerste keer ons eie kanonne maak .

Hierdie storie wat in Van Alle Kante, in Die Burger van 1 Januarie 1973 verskyn het, verwys weliswaar nie na die bekendste Vosloo van alle tye nie, maar volgens oorlewering was hy die man wat die kanon gebou het. Vandaar dat hy vandag nog by sommige mense bekend staan as Gert Houtkanon of onder sommige lede van die familie as die Houtkanonmaker. Daar word ook op 'n gedenknaald wat deur sy nasate by sy graf opgerig is, verwys na die feit dat hy as sodanig bekend gestaan het. Sy doopnaam was Gerrit (1768) en hy was 'n agterkleinkind van die stamvader.

Gerrit, wat ook bekend gestaan het as Sterk Gert, is op 21 April 1860 op die ouderdom van 92 jaar 2 maande en 28 dae op die familieplaas, Oukraal, in die distrik Somerset-Oos oorlede. Volgens een van sy nasate, Jan Ernst (1938), wat vandag nog sy perdepramkierie het, moes hy, as 'n mens na die lengte van die kierie kyk, langer as 6' 6'' (kort duskant die 2m) gewees het.

Geen wonder dat van sy nasate onder name soos Big Hans'' (Johannes Lodewyk -- 1878) en Sterk Jan Vosloo'' (Jan Hendrik -- 1859) bekend gestaan het nie. John William (1953), oor sy oupa, Big Hans:

Daar word vertel dat hy op 'n dag besig was om 'n perd te beslaan en die perd wou nie stilstaan nie. Hy vererg hom toe en slaan die perd met een vuishou plat. ‘n Voormalige Springbok-rugbykaptein en voorry, Hannes Marais, tel ook onder sy nasate (sien bl. 401).

Oud-President FW Reitz se storie in Die Huisgenoot van Julie 1918.

Net so bekend soos wat die storie van Gert Houtkanon onder die Vosloos en nie-Vosloos is, net soveel weergawes is daar. Alhoewel die kern van die verskillende stories in die meeste gevalle min of meer dieselfde is, verskil die detail. Dit is maar hoe dit met mondelinge oorlewering gaan. Met die skryf van bogenoemde storie wat in Die Burger verskyn het, het die dominee se verbeelding waarskynlik ook 'n bietjie met hom op loop gegaan. Heelwat van die detail is seker maar bygewerk ter wille van die effek. Die bekendste variasie van die storie, en waarskynlik die bron van die meeste van die latere variasies, is die een wat deur Oud-President FW Reitz vertel is en wat in Die Huisgenoot van Julie 1918 gepubliseer is. 'n Herpublikasie van dié artikel het weer in die Die Huisgenoot van 28 November 1941 verskyn.

'n Artikel deur Pres. Reitz oor dieselfde onderwerp het reeds in 1874 in die Cape Monthly Magazine verskyn saam met ander sogenaamde “Boer Stories''. Dit is duidelik dat Die Huisgenoot-artikel nie bloot 'n vertaling van die artikel in die Cape Monthly Magazine is nie.

Dit laat my aan 'n ander kanon-storie dink. Dit gaan oor die dag toe Kanoneiland, naby Keimoes langs die Oranjerivier, glo sy naam gekry het. Daar word vertel dat die Korannas op die eiland in voortdurende gevegte met ander Korannas betrokke was. Op 'n dag het een van hul mense tydens 'n besoek aan die Kasteel in Kaapstad onder die indruk gekom van die verwoestingswaarde van kanonne. Hy het buskruit op die swartmark gekoop en terug op die eiland vir sy mense voorgestel dat hulle 'n kokerboomstam uithol. Die is toe ook met buskruit, stukke yster, boute, skroewe ens. volgestop. Die kanon is op die vyand gerig en die lont is aangesteek. Daar was 'n geweldige ontploffing. Die verwoesting was verskriklik. Die bombardier het stadig opgestaan, na al die gewondes en gesneuweldes rondom hom gekyk en gesê:

“Sjoe, as dit hier só lyk, dan wonder ek hoe lyk dit daar anderkant!''

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Post a Comment

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...