Tuesday 25 December 2007

'N GENEALOGIESE KERSGESKENK

‘n Jong meisie van 20 jaar, Samantha-Jane Gravett, het my so 'n week terug gevra of ek asseblief iets oor die voorgeslagte van haar pa kan saamstel. Sy wil dit as ‘n kersgeskenk aan hom gee.

“Tall order,” was my gedagte. Dit val mos nie sommer uit die lug nie.

Sy het my karige inligting gegee. Uiteindelik het ek met haar oupa, ‘n 80-jarige met ‘n verstand so blink soos ‘n diamant, gepraat.

Die familieregister het gestalte begin kry.

Op SAGEN het ek hulp gevra. Alta le Roux van Oudsthoorn (wie weet nie van haar nie) was ‘n staatmaker. Sy het met die familielyn tot die Gravetts die land ingekom het, gehelp.

Nog soek op die webtuistes van die LDS-kerk was volgende. Dit het broers en susters en datums opgelewer.

Nog praat met Alta het gevolg. Sy het twyfel oor sekere name bevestig en nog gehelp.

Intussen het ek ‘n paar ure op Legacy bestee om dit in te voer.

George Gravett (*1801) (links) was ‘n Britse Setlaar. Op www.1820settlers.com was daar inligting oor hom. Selfs sy foto was daar. Hy het met die Brilliant na Suid-Afrika gekom. Ek het ook ‘n skets van die skip gekry.

Uiteindelik was daar name van altesame agt geslagte. Van die oupa af ondertoe was dit volledig. Bronne en al.

Met Legacy het ek verskillende verslae gedruk. Saam met ‘n kort opsomming van die Britse Setlaars en ‘n bietjie ander skryfwerk kon ek 30 bladsye bind.

Later het ek nog inligting oor die Gravetts op www.1820settlers.com gekry. Daar was net te min tyd om alles in te sluit.

Samantha het dit gisteraand as ‘n kersgeskenk gekry. Dit was ‘n vreugde om haar vreugde te ervaar. Belangriker: sy weet nou van genealogie.

Sy gee dit vandag aan pa. Sy sê hy en haar oupa (en die ander) gaan in die wolke wees.

Wens ek was daar. Dit is hoe ons genealogie laat groei.

Nou moet hulle voortgaan. -- Japie Bosch

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...