Thursday 6 December 2007

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (9)

Ongewone Voorname

Deur Lucas Rinken

Waneer ‘n mens ongewone voorname hoor, is dit soms moeilik om ‘n glimlag te onderdruk of selfs te keer dat jy nie hardop begin lag nie.

Wie het nie al gehoor van die arme dogter wat Ossewanina Brandwagtia gedoop is nie. En hoeveel Eufesias is daar nie?

Onwillekeurig dink 'n mens: hoe kon die ouers dit aan hul kind gedoen het? Wat het die arme kleingoed nie op skool deurgemaak nie?

My vrou se pa was ‘n ongeslypte diamant. Toe hy haar, na haar geboorte, geregistreer het, was die laaste ding waaraan hy gedink het korrekte spelling. En so word sy Jeanetta Petronella pleks van Jeanette Petronella, vernoem na haar geliefde ouma (skoonma se moeder). Dit kon sy net nie aanvaar nie en voor ons troue het sy werk daarvan gemaak om sake reg te stel - die groot fooi vir daardie dae om haar naam amptelik na Jeanette te verander, was £25 .

Jare later, het 'n ander skok gekom. Ouma het aansoek vir ‘n ouderdomspensioen gedoen en moes ‘n bewys van haar ouderdom verstrek. Sy het vir ‘n doopsertifikaat aansoek gedoen en vind toe op 'n hoë ouderdom uit dat sy gedoop is Jan Petrus. Sy het dit nie snaaks gevind nie.

Ek, komende uit ‘n Afrikaans gesin, maar gebore in Durban, ‘n Engelse stad, is geregistreer as Lucas - nie Lukas nie. Mnr OC Hinds wat die registrasie gedoen het, het eenvoudig die Engelse spelling gebruik en pa het dit nooit agtergekom nie.

Werk ‘n mens deur e-SAGI kom jy op baie interessante voornaamkombinasies af.

Plestina Blatherwick HITGE, gebore 6.8.1890, se naam kom van haar ouma aan moederskant, Plestina Blatherwick YOUNGER, gebore in Uitenhage, 6.7.1825. Ons sal vir ‘n later volume van SAG moet wag om dalk agter te kom waar hierdie name vandaan kom. Soek ‘n mens op NAAIRS, kry jy ook Plestina Blatherwick THURTELL, gebore HITGE, blykbaar oorlede in 1920. Sou hierdie name verder voorgedra word?

Nog ‘n ongewone voornaam is Evodea PIENAAR, dogter van Johan Christiaan PIENAAR en Emmerentia Alberta Elizabeth REDLINGHUIS. Wat sou die oorsprong wees?

Terwyl ons by die van, PIENAAR, is. Dikwels wil ouers mense vernoem vir wie hulle groot respek het. Een van die mooiste vernoemings van ons boere-generaals waarop ek afgekom het, was Dewettina Delarina PIENAAR gebore te Elandsfontein omtrent 1905.

"Laat my dink aan die eerste keer toe die Vrystaat die Curriebeker huis toe geneem het. Een koerantskrywer wou toe, tong-in-die-kies, weet of daar nou 'n klompie dogters as Vrystaatiacurriebekerrina gedoop gaan word." -- www.sausa.org

En nog ‘n PIENAAR. Johannes Theodorus PIENAAR en Maria Elisabeth STANDER se vierde seun is Gerrit Uwes PIENAAR. Vanwaar?

Dikwels het bekende persone familie ongewone name. Wie weet nie van die oud-minister van Vervoer, Ben SCHOEMAN, nie? Hy het blykbaar ‘n broer met die naam Abelinus.

Dan kry ‘n mens uitheemse name wat vir ons vreemd voorkom: Milagros Rocio ABREGO en die vroulike daarvan, Milagros Rocia ABREGO. Of Bristela AGUIRRE. Wat van Ragnhild AMUNDSDATTER, Hedwig ANKIEWICZ, Obadiah ANTRIM, Reinaldo ARACENA of Sidsel Zidsele ARISTEN?

Een wat erg Romeins klink is Appius Claudius NERO.

Ander ongewone name? Wat van Aegidius Benedictus ZIERVOGEL, Aernouts SLABBAERT of Affabell Battell Henry GIBSON. En Arac Prideaux LUSCOMBE.

Nog ‘n klompie: Bertha Kanutte AARFLOT, Piet Liebertrau Schmidt ACKERMAN, Barnabas Lothrop ADAMS, Abgenita ADENDORFF, Winthrob ANDREWS, Sinomi ARNOLD, Andryetta Ludovica Johanna PRETORIUS.

Selfs in bekende vanne kry ons dus ongewone voornaamkombinasies. Anna Aderjana du PLOOY. Ook Anna Aletta Aderaaina du PLOOY en Susanna Eureka Magdalena du PLOOY. ‘n Mens kan maar net wonder waar dit vandaan kom -- dis nou as dit nie tikfoute is nie, wat altyd moontlik is. So ook Arancha Sanche BOSHOFF.

"My aunt's name is Debra May Page and she married Patrick Dye. Now she is called Debra May Dye." -- www.ethanwiner.com

Dan is daar Arend. Dié noemnaam kom onder andere voor in BRINK, de KOCK, de LANGE, de WAAL, FISCHER, GELDENHUYS, GROVÉ, HOEFNAGELS, HURLING, KOSTER, KOTZE, LOEDOLF, MUNNIK, NELSON, OLKERS, OLIVER, OTTO, PENTZ, REITZ, SCHENK, van AS, van BREDA, van der MERWE, van KRADENBURG, van ROOYEN, van SITTERT, van WIELLIGH(WE(I)LLIGH), en van WYK.

Maar die bedoeling is nie om lang lyste van name hier te gee nie. Kry self e-SAGI en sien self welke name onder ons 350 000 siele vervat is.

My eie vader het swaar gedra aan vier voorname: Sy oupa was Johannes Gerhardus Carolus Albertus en hy word toe Johannes Gerhardus Cornelis Albertus. Dit kon ons nie ons kind aandoen nie en hy het net die eerste twee van sy oupa se name gekry. Oupa was egter sy hele lewe lank bekend as Jan. En so het ons seun ook Jannie geword. Toe ontmoet hy Amanda de GRAAFF uit ‘n Engelse agtergrond, trou en verander sy noemnaam na JANN.

Ander met meer as drie voorname sluit in: Johanna Magdalena Cornelia Dorothea COETZEE, Burgert Johan Paul Salomon ROELWERT en sy dogter Johanna Elizabeth Susanna Maria ROELWERT, Maria Jacoba Hester Helena JONKER, Arent Johannes Bernardus Schagen van SOELEN en Gesina Levina Fredrika Wilhelmina van DEVENTER. Kan hulle ook stories rondom hul name vertel?

Ek het al erger teegekom. Jare gelede in Durban was ek adjudant van die kommando. Een van ons lede was: Stephen de St. I van de Bellelav BOURQUIN.

Weer eens ‘n uitdaging: klop dit.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...