Saturday 8 September 2007

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (6)

FAURE: ‘n Familie van Predikante

Deur Lucas Rinken

Die Murrays en die Louws is bekend vir die predikante in hul geledere. So ook die FAURE-familie.

e-SAGI se data gaan met hierdie van terug tot by Philibert FAURE, gebore in omtrent 1530. Hy het vroeg in die 16de eeu gewoon in Bourg-en-Presse waar sy voorsate reeds vir twee eeue gewoon het. Sy seun, Antoine, Knight-Baron FAURE is in1556 daar gebore en is in 1624 in Chambery oorlede. Hy was in 1610 President van die Hooggeregshof in Chambery. Dis duidelik ‘n adelike familie. Sy vrou was Benoite, “Countess” de VANGELAS. Hy het nie minder nie as 16 seuns gehad. Ons weet van drie.

Een van hulle, Franciscus, was ‘n vriend van Kardinaal Richelieu -- die eerste kerklike verbintenis.

Die tweede seun Phillipe, gebore in 1608 was vervolg, omdat hy die Hervormde Geloof aangeneem het. Hy was lank opgesluit in die vesting in Grenoble. Nadat hy vrygelaat is, het hy na Switzerland gevlug en van daar na Holland -- nog ‘n kerklike verbintenis.

Laasgenoemde se seun, Pierre, gebore in Januarie 1636, het op 1 Augustus 1663 in Courthézon, Prinsdom Oranje, met Justina Pointy getrou. Hy was drie maal getroud. Ons lees in Familia, 1982, No 2, p 44: “Met sy tweede troue weier "de heer Deydier te Jonquiéries" aanvanklik om "de deur van de kerk te openen", aangesien die huwelik binne skaars 'n aderhalf maand ná sy eerste vrou se dood plaasvind. Hy het as koopman die dag ná sy troue, 2 Augustus 1683, gekwalifiseer.

Met die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 is die Protestante kerke in Orange waar hy gebly het, gesluit. Hy het tot in 1686 daar gebly tot die doop van sy seun Antoine, in Maart geregistreer is. In Mei was hy nog as koopman gelys. Daarna het hy uit Orange na Holland, soos vele ander, gevlug. Hy het later in Orbe, Switzerland gaan woon.

Sy oudste seun het tydens die geloofsvervolging in 1685 verdwyn.

Dis Pierre se tweede seun, Antoine Alexander FAURE, wat die stamvader van die FAUREs in Suid Afrika is. Hy is op 2 Februarie1685 gebore en het op 25 Julie 1736 in Stellenbosch gesterf. Hy het op 30 Augustus 1716 met Rachel de Villiers, dogter van Abraham de VILLIERS (a2) en Susanna Gardiol, getrou.

Antoine se eerste seun, Abraham, gebore op 17 Augustus 1717 in Stellenbosch, was sekretaris en ouderling van die kerk in Stellenbosch. Hy het op 29 Augustus 1756 in Stellenbosch met Anna Maria WIUM getrou.

Abraham se seun, Jacobus Christiaan FAURE, gebore op 28 Julie 1769 in Stellenbosch, is die een wat ons aandag verg. e-SAGI se notas lui: “Jacobus was 'n welgestelde boer van die plaas Vergenoegd aan die oewer van die Eersterivier , waar 'n mooi woonhuis, deur hom gebou, nog in besit van die FAUREs is. Hy was 'n ouderling van die NG Kerk, Stellenbosch. Sy plaas was 14 morg groot en was met 45 000 wynstokke beplant. Hy het ook koringlande bewerk.

Jacobus en Anna was die ouers van twee van die edelste en trouste leraars in diens van die NG.Kerk, nl. dr. Abraham FAURE en ds. PE FAURE”.

Notas oor dr. Abraham FAURE lees: “Abraham was die invloedrykste man in die kerk in sy tyd. In sy jong dae is hy deur die kerkvaders as die vurige jong Timotius beskryf. Hy het in Gosport (ligging onbekend) sy voorbereidende onderwys geniet. Vandaar is hy na Utrecht, Holland om in die teologie te studeer. In 1818 het het teruggekom en leraar van Graaff-Reinet geword. In dieselfde het hy 'n brief aan Graaf Bathurst (Staatsekretaris) geskryf. Daarin het hy voorgestel dat 'n seminarie vir die opleiding van predikante gestig word. In 1822 het hy ds. Fleck in die Kaap opgevolg. In 1824 het hy die eerste kerkie vir slawe in Stellenboschgeopen. Hy was 'n baie vername en bedrywige predikant en het by talle geleenthede as spreker of prediker opgetree.”

In 'n artikel in Die Voorligter van April 1983 het prof. PB van der Watt geskryf: "Sy invloed moet enersyds toegeskryf word aan die krag van sy persoonlikheid en andersyds aan sy veelsydige kontakte met die tyd waarin hy gelewe het. Kort van gestalte, met lewendige donker oë onder dik wenkbrone, was hy 'n vorse persoonlikheid. Hy het inderdaad so vertoon agter die moderatuurstafel van sy Kerk". In 1824 word hy skriba van die Sinode. Vanaf 1829 tot met sy aftrede het hy die betrekking van Aktuarius eervol vervul.

Volgens 'n artikel in Die Kerkbode van 25 Februarie 1959 oor die "Ontstaan van die Sondagskool" geskryf deur dr. HDA du Toit, meld hy: “0p Pinksterdag, 26 Mei 1844, het ds.Abraham FAURE, predikant van Kaapstad, die eerste Sondagskool waarvan ons weet, in die konsistorie opgerig. Ses maande ná die oprigting kon die Kerkraad aan die Ring rapporteer dat daar meer as 400 kinders in die Sondagskool is". In die Stellenbosch, Drie Eeue Gedenkboek, 1979, is 'n hele uiteensetting van die ontstaan van die Teologiese Kweekskool.

Dr. Abraham FAURE het sover terug as 1824 al 'n pleidooi vir 'n eie opleidingskool aan die Kaap gelewer. Hy het later allerweë bekend geraak as die "Vader van die Kweekskool.". Hy was predikant van die NG Kerk in Graaff-Reinet (1818-1822) en later ook in Kaapstad (1822-1867) asook een van die stigters van die "SA College". Volgens RTJ Lombard in Familia (1990, Vol 4) is sy herkoms (gemeet in die vierde voorgeslag) 43.75% Frans, 31.25% Hollands, 12.5% Duits en 12.5% Deens.

Abraham was predikant in Graaf-Reinet en Kaapstad asook die stigter van Die Kerkbode. Hy was ook die voorsitter van die bestuurskomitee wat die eerste amptelike pogings aangewend het wat op die stigting van die NG Sendingkerk in 1819 uitgeloop het.

Sy seun, dr. Hendrik Emanuel FAURE, gebore 17 Augustus.1828 was predikant in Pietermaritzburg en die gemeentse, St. Stephens, Kaapstad.

‘n Tweede seun, Hendrik Emanuel FAURE, gebore 15 Oktober.1804 het, soos twee van sy broers, ook vir predikant gestudeer, maar is tydens sy studiejare in Utrecht, Nederland, oorlede.

Die jongste broer (van 14 kinders) was Ds. Philip Eduard FAURE, gebore op 1 Desember 1811 in Stellenbosch en het op 7 Desember 1882 in Wynberg gesterf. Hy was predikant in Wynberg en volgens RTJ Lombard in Familia, (1990, Vol 4) is sy herkoms (gemeet in die vierde voorgeslag) 43.75% Frans, 31.25% Hollands, 12.5% Duits en 12.5% Deens. Hy het in Januarie1838 in Kaapstad met Anna Wilhelmina Maria, gebore CAMBRIER in omtrent 1815 te Vianen, Nederland, getrou.

‘n Bietjie verder in die lyn af was daar nog ‘n FAURE-predikant. Hy was die oudste seun, Jacobus Christiaan FAURE, (gebore 27 Junie 1819 en op 31 Julie 1839 in Kaapstad getroud met Johanna Henriëtte Knobel) se tweede oudste seun, Ds. Abraham FAURE. Hy is gebore op 23 Augustus 1847 en op 30 September 1873 met Magrieta Magdalena Pieterson getroud.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...