Sunday 5 August 2007

SABC VOLG IN ONS VOETSPORE

Na aanleiding van die artikel "FAMILIEWAPENS IS ONWETTIG, UIT EN GEDAAN. DIS ONWETTIG" (hieronder) het Radio Sonder Grense (RSG) op Saterdag, 4 Augustus 2007, 'n program oor familiewapens uitgesaai. Radiojoernalis Veronica Fourie het dit aangebied.

Die voormalige Staasheraldikus, Fred Brownell (links) en genealoë Janet Melville (regs) en Peter Smits het daaraan deelgeneem.

'n Engelse weergawe van die program is Sondagoggend, 5 Augustus 2007, op SAFM uitgesaai.

In die program is opnuut daarop klem gelê dat daar nie so iets soos 'n familiewapen bestaan nie. Brownell het dié saak met die nommerplate van 'n motor vergelyk. "Een motor, een nommerplaat; een persoon een (heraldiese) wapen. "Die Van der Walts, byvoorbeeld, het tog nie almal dieselfde nommerplaat nie," het hy verduidelik.

Dit het onder meer ook aan die lig gekom dat die Van Rensburgs in Suid-Afrika al meer as 50 jaar lank met 'n familiewapen spog wat niks anders is nie as dié van 'n munisipaliteit in Duitsland -- alles te danke aan Cor Pama wat in sy oorhaastigheid die wapen van die dorp, Rensburg, aan hulle toegedig het. In die artikel hieronder word verduidelik wat Pama gedoen het toe hy familiewapens lukraak geskep het.

Melville het bevestig dat die gebruik van die woord "familiewapens" sterk in die volksmond gevestig is. Sy is van mening dat dit en die aanwending van die familiewapens (al is dit vals) moeilik in Suid-Afrika uitgeroei sal word.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...