Tuesday 24 July 2007

STANDAARDISERING

Lucas Rinken is die man wat e-SAGI, (elektroniese Suid-Afrikaanse Genealogiese Indeks), 'n databasis met 339 000 rekords, onderhou. Hy ontvang deurentyd data van persone wêreldwyd vir bywerking. Hy bestee baie ure om die data so ver as moontlik eenvorming te kry om sodoende die opsporing van
'n individu te vergemaklik. Hier vertel hy hoe sy taak vergemaklik kan word.

‘n Rekenaar “dink” nie soos ‘n mens nie. Wat vir ons dieselfde lyk, is vir ‘n rekenaar iets anders. Niemand kan teenoor ‘n ander voorskriftelik wees nie. Elkeen het sy eie gedagtes oor hoe dit behoort te wees. Dog, goeie raad is: WEES KONSTANT.

VANNE

Die rekenaar onderskei tussen dieselfde van wat op verskillende maniere gespel word, byvoorbeeld:

de Wet
de WET
De Wet
De WET
DE Wet
DE WET

Vir ‘n rekenaar is elke spelling hierbo iets anders.

As jy besluit op DE WET, sorg dat dit altyd so ingevoer word. Die e-SAGI-databasis, byvoorbeeld, gebruik “de WET”.

PLEKNAME

Bekyk die volgende:

Johannesburg, Transvaal, South Africa
Johannesburg, Gauteng, South Africa
Johannesburg, Transvaal, RSA
Johannesburg, Gauteng, RSA
Johannesburg, Z.A.R.

Daar is nog vele ander variante van dieselfde plek, maar nie vir ‘n rekenaar nie. Vir hom is dit verskillende plekke.

Hier is daar egter ook die tydvak betrokke. Sommige mense glo dat die plekaanduiding die tydvak daaraan verbonde moet weergee. Johannesburg was wel eers in die ZAR, toe in die Transvaal as deel van die Unie, toe in Transvaal as deel van die Republiek en nou deel van Gauteng in die Republiek.

‘n Mens kan nie hierteen argumenteer nie.

As onderhouer van e-SAGI wil ek die pleknaam hê soos ek dit in my leeftyd geken het. Sodoende wil ek soektogte na ‘n pleknaam tot een wyse van spelling beperk. Omdat ek ‘n bietjie ouer is, verkies ek dit soos net voor 1994. Ek wil nie voorskriftelik wees nie. Ek sê net wat ek doen en hoekom.

Gedcoms wat ek ontvang, bevat BAIE verskillende weergawes van dieselfde plek. Ek moet voortdurend besluit wat om te behou en wat om maar liewer van te vergeet. Dit bring my by die mees gebruikte plekname -- nie noodwendig dieselfde plek nie, maar dieselfde naam.

In die e-SAGI-databasis (met sy 339 000 rekords) sal baie name noodwendig dikwels gebruik word. Min mense sal verstaan hoeveel aandag hieraan gegee moet word. Ek probeer om plekname wat dieselfde lyk saam te voeg.

Blesboklaagte kom op drie plekke voor. So ook Boesmansfontein. Boplaas kom vier keer voor. Boschfontein kom op nie minder nie as agt plekke voor. ‘Brakfontein’ kom op 35 plekke voor en “Rietfontein” nie minder nie as 54 keer.

AANHALINGSTEKENS

Plaasname word dikwels in aanhalingstekens aangedui en dis reg so. Maar weer eens het ons met rekenaars te doen.

Neem Rietfontein, ‘Rietfontein’ en “Rietfontein” ongeag waar die betrokke Rietfontein werklik is.

Die eerste twee hierbo sal deur ‘n rekenaar na aanmekaar gesorteer word -- in die volgorde soos hierbo, maar laasgenoemde sal heelbo aan die lys gesorteer word voor name wat met A begin. Daarom versoek ek aan diegene wat vir my data stuur: vermy sover as moontlik die laaste formaat en gebruik liewer ‘Rietfontein’.

DATUMS

Baie mense hou daarvan om datums volledig in te voer, soos: 26 Januarie 2007. Dit lyk mooi, maar vir ‘n rekenaar is dit nie ‘n datum nie en berekenings om byvoorbeeld ouderdom te bepaal, kan nie met hierdie formaat gedoen word nie. Gebruik dus liewer die formaat wat vir die rekenaar sinvol is: 26 Jan 2007.

Al is die data in Afrikaans ingevoer, gebruik liewer Engels vir datums: dus 15 May 2007 en nie 15 Mei 2007 nie. Rekenaars verstaan net Engels, tensy die basiese program aangepas is.

BESTEL E-SAGI SÓ:

  • e-SAGI is verkrygbaar op 'n kompakskyf (CD). Dit kan bestel word by Dennis Pretorius by krugersdorp@pixie.co.za. Dit kos R120. Vorige aankopers kan die jongste weergawe teen 'n verminderde prys kry.
  • As 'n alternatief kan u 'n Gedcom met minstens 1 000 rekords van u familie-inligting vir insluiting in e-SAGI aan Lucas Rinken stuur en 'n gratis kopie van die e-SAGIkompakskyf kry. Lucas kan gekontak word by lgr@iafrica.com.


No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...