Monday 4 June 2007

NÁ 79 JAAR KRY SY HAAR MA SE FOTO ÉN 'N HALFSUSTER

“Kan jy dit glo? Op 79 het ek vanoggend die eerste keer ’n foto van my ma gesien.

Dit was die woorde van die 79-jarige me Felicia Jacobs (gebore Fleischack), toe sy Saterdag, 2 Junie 2007, haar halfsuster vir die eerste keer gesien het, tesame met 'n foto van hul ma.

Dié verhaal hieragter het op 4 Junie 2007 in Beeld verskyn. Die berig illustreer die waarde van die Transvaal Argief in Pretoria (asook dié in ander provinsies) as 'n vertrekpunt met die opspoor van familie.

Links: Me Felicia Jacobs (links) en haar halfsuster, Ruth Milne, met 'n foto van hul ma.

Jacobs se susterskinders het me Ruth Milne (72, gebore Hoyle) verlede Maandag ná ’n lang soektog in Port Elizabeth opgespoor. Familie het die twee halfsusters in Pretoria byeengebring.

Jacobs en haar suster, Alma, het hul ma, Hester Jacoba Hoyle (gebore Liebenberg en voorheen Fleischack), nooit geken nie.

Sy en Alma, wat intussen oorlede is, was onderskeidelik drie jaar en sewe jaar oud toe hul ouers geskei is. Hul pa, Gilbert Fleischack, het toesig en beheer oor die kinders gekry. Hy is kort daarna weer getroud. Dié twee dogters het nooit weer iets van hul ma gehoor nie. Niemand is toegelaat om oor haar te praat nie.

Nadat hulle uit die huis is, het hulle haar vergeefs probeer opspoor, maar hulle het nie eers hul ma se volle name en nooiensvan geken nie. Hulle het ook nie geweet dat hul onbekende ma ná die egskeiding weer getrou het en saam met haar tweede man, Edward Ernest Hoyle, na die dorp Mufulira in Zambië getrek het nie. Ruth en Ernest Hoyle jr. is uit dié huwelik gebore.

In 1942 is Hester (die ma) weens breinvliesontsteking in Zambië oorlede, maar die dogters uit die eerste huwelik het dit nooit geweet nie. Hulle was toe 18 en 14 jaar oud. Die kinders uit die ma se tweede huwelik, Ruth en Ernest, was 7 en 6 jaar oud.

Die twee pare kinders het nie geweet waar een die ander is nie.

Die soektog na familie het begin toe me. Lieschen Bernatz, Alma se dogter wat in Duitsland woon, ’n familieregister wou begin.

Met behulp van ’n betaalde navorser is Gilbert en Hester (die pa en ma) se egskeidingsdokumente in die Transvaalse argief opgespoor.

“Dit was ’n openbaring, want toe het ons geweet wat haar naam was. Haar boedel is ook opgespoor. Ons het tóé eers agtergekom sy het nog twee kinders gehad en dat sy in Zambië oorlede is, het mnr Hein Gehle, Alma se seun, vertel.

Die soektog is op die internet voortgesit. ’n Webtuiste van die Mufulira-klub het ’n doodsberig van Ernest Hoyle gehad. Die begrafnisondernemers in dié berig se adres was op Springs.

“Dit was soos om goud te ontdek,” het Gehle gesê. Deur verdere e-posse en die Mufulira-klub se webtuiste het hulle ’n kontaknommer gekry. Milne se skoonseun is daarna opgespoor. Dieselfde aand het Milne en Jacobs (die twee halfsusters) oor die telefoon vir die eerste keer met mekaar gepraat.

Geredigeerde berig geplaas met die toestemming van BEELD.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...