Monday 4 June 2007

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (3)

DIE VLOEK OOR DIE DE WETS

DEUR LUCAS RINKEN

Daar word vertel dat ‘n reisiger met sy gesin op die plaas Boontjieskraal in die Caledon distrik, by ene Pieter Daniel de Wet, gebore 25 Mei 1861, wat op die plaas geboer het, aangeklop het. Die rivier was vol en die reisiger wou dit nie waag om deur te ry nie. Hy het gevra of hulle daar kon oornag. Om welke rede ookal, het Pieter de Wet geweier. Die reisiger moes noodgedwonge die vol rivier aandurf. Van sy kinders het in die poging verdrink.

Die reisiger het toe ‘n “vloek” oor die De Wets uigespreek, naamlik dat nie een van die manlike erfgename die voorreg sou hê om tot in hul oudag op die plaas te boer nie en voorts dat hulle aan onnatuurlike oorsake sou sterf.
  • Pieter was die eerste “slagoffer” toe hy in sy Model T-Ford, ná ‘n kerkdiens, van ‘n lae brug afgery het en gesterf het.

  • Sy oudste seun, Hendrik Christoffel (genoem Henry), gebore 21 April 1887, was die tweede "slagoffer". Hy het op 5 Desember 1945 op die plaas met ‘n dorsmasjien verongeluk.
  • Laasgenoemde se enigste seun, Pieter Daniel, gebore 6 Oktober 1916 , was derde. Hy het op 29 Junie 1959 gesterf. Hy en sy seun het in ‘n ingevoerde linkerhandstuur Packard, in digte mis op die pad naby Boontjieskraal van agter teen ‘n vragmotor vasry. Dié seun, ook Hendrik Christoffel, gebore 17 Augustus 1945, is sleg in die ongeluk beseer. Hy het sy skouerbeen gebreek. Daarna was hy betrokke by verskeie ander ongelukke.
  • In 1971 was Hendrik Christoffel die vierde een aan die beurt.
    Sy BMW het teen ‘n berg afgerol. Hy is ernstig beseer. Hy het die hele nag hulpeloos gelê voordat iemand hom gevind het. Hy was lank bewusteloos. Hoewel hy herstel het, was hy daarna ‘n invalide. Hy het ‘n bestuurder gekry om sy motor te bestuur. By geleentheid kon hy die versoeking om sy nuwe BMW te bestuur nie weerstaan nie. Op dieselfde pad waar sy vader en oupa gesterf het, het hy op 24 Junie 1972 in ‘n botsing met ‘n ander motor gesterf.
Só het die laaste manlike erfgenaam, ongetroud, gesterf. Sy oudste suster, Doreza Helena Marie de WET, gebore 19 Julie 1947, en getroud met Uwe KERSANT, het die plaas geërf. Dit is blykbaar vandag nog ‘n spogplaas.

Was dit alles toevallig of die gevolge van die “vloek”?

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...