Saturday 5 May 2007

GENEALOGIESE TAALGOGGAS?


Vroeg in Mei 2007 het ‘n gesprek op SA Genealogie (SAGen), die gewilde gespreksform, oor die begrippe “kwartierstaat” en kwartierstaatverlies” plaasgevind. Hieruit blyk dit dat dit twee genealogiese taalgoggas is.
Hieronder volg die gesprek.


Sylvester Rascher: Die woord “ kwartierverlies” het klaarblyklik algemene inslag gevind en indien ek dit reg verstaan, dui dit op die aanduibare meervoudige voorkoms van ‘n bepaalde voorouer (hetsy man of vrou) in ‘n afkomslinie. Indien dit so verstaan word, het ek persoonlik met, onder andere, vele maal Cloete, Du Toit, Du Preez enVan der Merwe ‘n geweldige “kwartierverlies” in my Afrikaner afkomslinie gely.

Na my mening dra die Afrikaanse woord “verlies” ‘n negatiewe konotasie. Wanneer dit op die genealogie as “kwartierverlies” geprojekteer word, beteken dit noodwendig dat iets verlore gegaan het.

Kwantitatief (getalsgewys) gesproke, is daar ook by my geen twyfel daaraan dat getalle verlore gegaan het nie. In hierdie sin het ek geen probleem met die gebruik van die term “kwartierverlies” nie, maar dan moet dit na my mening in ons genealogiese vakterminologie spesifiek gekwalifiseer word as “kwantitatiewe
(getals) kwartierverlies”.

Die rede hiervoor is, na my mening, dat ons, anders as met kwantitatiewe (of getalwyse) aanduiding, nie sonder meer kan aanvaar dat ons in terme van kwaliteit noodwendig ‘n verlies gely het wanneer ons kwartierstate meervoudige voorouers oplewer en ons in praktyk met minder voorouers as die teoreties moontlike getal opeindig nie

So byvoorbeeld sal die historiese toetrede van ‘n voorouer wat die siekte porforie aan die nageslag oorgedra het, wel tot kwantitatiewe (getalsgewyse) “kwartierwins” lei, maar moontlik nie tot kwalitatiewe (kwaliteitsgewyse) “kwartierwins” nie...

In die lig van die voorafgaande wil ek voorstel dat, indien lede saamstem, ons in ons genealogiese vaktermonologie, eerder gebruik maak van die woord “kwartiervernouing” in plaas van “kwartierverlies”.

Christo Viljoen: Ekself was nog nooit baie entoesiasties oor die woord "kwartierstaat" nie, want vir my het dit die betekenis van iets wat met vier (4) te doen het: vier voorsate, dws jou oupas en oumas? - of dalk vier geslagte? Die WAT gee geen definisie vir die woord "kwartier" aan wat enigsins verband hou met voorsate nie. Die vraag is dan: wat is die "kwartier" in "kwartierstaat"? Ek gebruik deurlopend die term voorsatestaat.

Ek deel jou sentimente rondom die "verlies"-aspek van kwartierstaatverlies. Al sou die term kwartier(staat)vernouing" hierdie konnotasie aanspreek, sou ek wou praat van "voorsateduplisering", want dit sê presies wat dit is.

Paul D Bosman: Die term kwartierstaat het my van die begin van my navorsing dwars in die krop gesteek. Ek kon, soos Christo Viljoen aandui, nie vasstel of dit net met my vier grootouers te doen het nie en of dit my voorgeslagte vir vier geslagte is nie. Hoe meer ek vra hoe minder kon ek die kloutjie by die oor bring. Totdat ek iewers gelees het dat die ou familieskilde uit vier dele bestaan en elke deel verteenwoordig een grootouer, toe kon ek my voorstel dat ‘n kwart van elkeen in my genesamestelling verteenwoordig is. Maar wie se grootouers kom op die familieskild voor?

Sekerlik nie myne nie, hulle het te laat in die prentjie of liewers op die skild gekom (eintlik is nie een van hulle daar nie). Dit verduidelik egter nog steeds nie die staat nie, waar kom die kwart daarin voor? Ek praat nie eens van die kwartierstaatverlies nie, dit klink regtig baie tragies. ‘n Mens het juis met soveel sterftes te doen in genealogie. Die Hollanders praat deure tyd van “kwartierstaat et kwartierstaatverlies”. Gun hulle dit. Gelukkig het ek op een of ander manier op die term "voorsatestaat" afgekom wat nou regtig sê presies wat dit is. Christo se Viljoen “voorsateduplisering” is pragtig, want dit sê ook presies wat dit is.

Chisto Viljoen: Paul Bosman se verduideliking van 'n familieskild wat gevierendeel is (en dus uit vier kwarte bestaan) maak vir my nogal sin, maar verklaar nog nie wat die "kwartier" in kwartierstaat(verlies) is nie. My eie voorsatestaat bestaan uit 'n halfsirkel (waaierkaart), met links my patriargale en regs my matriargale voorsatelyne. As ek nou my vrou se soortgelyke voorsatestaat opstel en onderaan my eie inlas, vorm dit 'n volkome sirkel en is daar vier kwadrante - maar dit is 'n saamgestelde voorsatesirkel en dus iets heeltemal anders.

Ek het my twee oupas en oumas (Viljoen x Fouché, en Pienaar x Van Heerden) se familiewapens afgedruk op my voorsatestaat, en sou die volgende stap (8 familiewapens van my grootjies, of selfs verder terug) kon oorweeg, maar dan raak dit te veel van 'n gedrang. Miskien moet ek my eie familiewapen laat registreer --gevierendeel met verteenwoordigende komponente van elk van die vanne Viljoen, Fouché, Pienaar en Van Heerden! Dan verteenwoordig elke kwart(ier) 'n voorsaat en kan ek seker praat van my kwartierwapen - of is dit nou 'n kulturele wapen?

Ek het met Leon Endemann by die Genealogiese Instituut van SA (GISA) gesels oor die kwartierstaatstorie. Hy verseker my dat dit verwys na vier geslagte, dus 16 individue in die buitenste rand. My voorsatestaat het 256 individue (8 geslagte) in die buitenste rand (en ek kan nog twee geslagte byvoeg, maar dan word dit te groot om af te druk). Ek het finaal afskeid geneem van die term "kwartierstaat" -- ons kan doen sonder hierdie Holandisme.

Terloops, my eie voorsateduplisering is sodanig dat onder die 256 name in die buitense rand is daar net een egpaar wat gedupliseer word -- een aan my patriargale, en een aan my matriargale voorsatekant onderskeidelik. As 'n "verlies" het ek dit nog nooit eintlik ervaar nie.

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...