Tuesday 1 May 2007

NAAMSONTWIKKELING VAN DIE UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH

Stellenbosch is die oudste dorp in Suid-Afrika. Reeds in 1685 toe die tweede gemeente van die NG Kerk van Suid-Afrika gestig is, het die gereelde skoolonderwys hier begin.

1866: In sir John Herschel se stelsel van openbare skole is Stellenbosch as gemeentelike sentrum van opvoeding erken. Onder die Onderwyswet van 1865 is die Openbare Skool in 1866 as die Stellenbossche Gymnasium gereorganiseer. In Desember 1863 het 'n dertigtal ingesetenes van Stellenbosch in die Ou Leeskamer vergader en hulle verbind om binne vyf jaar 'n sekere som geld vir die stigting van die Gymnasium byeen te bring. In 1873 is die destydse Raad van Eksaminatore deur die Universiteit van die Kaap de Goede Hoop vervang.

1874: In 1874 het die professorale afdeling, die sogenaamde Arts Department, van die Stellenbosch Gymnasium, tot stand gekom. Die Arts Department het aanvanklik uit die Rektor, die weleerw heer Charles Anderson, en twee professore, t.w. prof G Gordon vir Wiskunde en Natuurkundige Wetenskappe en prof A MacDonald vir Klassieke en Engelse Letterkunde, bestaan. Die leerlingtal van die Gymnasium in daardie jaar was 120. In die Derdeklaseksamen (die latere Matriek) het 9 geslaag, en in die Tweedeklaseksamen (die latere BA) 4. In 1879 is daar besluit om 'n behoorlike kollegegebou op te rig. Sir Bartle Frere het in dié dae 'n besoek aan Stellenbosch gebring. Hy was begaan oor die gebrekkige ruimte wat die onderwysmense tot hulle beskikking gehad het en het beloof om 'n goeie woord by die landsregering te doen. Deur die toedoen van sir Gordon Sprigg het die Parlement toe £3 000 vir 'n gebou gestem op voorwaarde dat die publiek dit met 'n gelyke bedrag sou aanvul. Op 22 Desember 1880 is die hoeksteen van die nuwe kollegegebou deur die Administrateur, sir George Cumin Strahan, gelê.

1881: In 1881 het die Arts Department 'n oktrooi as Kollege verkry. Die status en die konstitusie van die Stellenbosch College deur 'n wet van die Parlement vasgestel. Terselfdertyd is daar bepaal dat die Gymnasium onder die beheer van die Kollegeraad sou staan. Die gebou is stuksgewyse voltooi en in gebruik geneem. Op 6 November 1886 is dit ingewy.

1887: In 1887, die 50-jarige jubileumjaar van Koningin Victoria se regering, het sy toestemming verleen dat die kollege die Victoria Kollege van Stellenbosch genoem word. In 1882 was die stigting van 'n Landbouskool in verband met die Kollege onder bespreking. In 1887 is met vyf studente begin. In 1898 is die landbou-afdeling van die Victoria Kollege na Elsenburg oorgeplaas. In 1918 is die landbou-afdeling na Stellenbosch teruggeplaas, en wel as die Fakulteit Landbou van die Universiteit van Stellenbosch.

In die tydperk 1897 -- 1900 is die Fisika-laboratorium en die Christian Marais-biblioteek aangebou. Dit is moontlik gemaak deur die vrygewigheid van die broers JH en CL Marais. In 1899 is die senior matriekklas na die skool verplaas. Deur hierdie afskeiding is die getal Kollege-studente met 44 verminder sodat daar slegs 116 "Arts"-studente oorgebly het. Sowat vyf jaar later is 'n Kollege-uitbreidingskema in die lewe geroep. Plaaslik en elders, veral by oudstudente, is om hulp aangeklop. Hierdie beweging het gelei tot die verdeling van Filosofie en Engelse Letterkunde, en van Grieks en Latyn, die stigting van leerstoele vir Dierkunde, Plantkunde en Geskiedenis, en kort daarna ook vir Toegepaste Wiskunde. Die opleiding van onderwysers en onderrig in die Pedagogiek is van 1876 af van tyd tot tyd oorweeg.

In 1895 is begin om hulp te verleen aan studente wat die gewone program gevolg het, maar van plan was om later 'n onderwysdiploma te verkry. In 1911 is 'n professor in die Opvoedkunde eindelik benoem. 'n Nuwe gebou is opgerig. Twee jaar later is daarnaas 'n groot gebou vir vier van die natuurwetenskappe opgerig. Hiertoe het die Unieregering ruim bygedra. Met die ontstaan van die Unie van Suid-Afrika het die kwessie van hervorming van die hoër onderwys weer ter sprake gekom. Verskillende kommissies is met die oog daarop benoem. Hulle het verskillende oplossings van die vraagstuk voorgestel. Die voorstelle het almal in noue verband gestaan met 'n belangrike skenking van sir Julius Wernher en die heer Otto Beit vir die stigting van 'n sogenaamde "Onderwysende" Universiteit by Groote Schuur. Die eerste wetsontwerp, waardeur die Victoria Kollege aan Groote Schuur ondergeskik gemaak sou word, is met behulp van oudstudente en vriende van Stellenbosch doeltreffend bestry. Dit het nooit wet geword nie. Die Regering het 'n oplossing gevind deur meer desentralisasie. In plaas van één, is daar aan drie universiteite oktrooie verleen.

Wat Stellenbosch betref is dit moontlik gemaak deur die nalatenskap van mnr Jan Marais van Coetzenburg, wat in sy testament £100 000 vir die hoër onderwys op Stellenbosch nagelaat het. Die Universiteitswet is in 1916 deur die Unie-parlement aangeneem.

1918: Op 2 April 1918 het hierdie wet in werking getree en is die Victoria Kollege deur die Universiteit van Stellenbosch vervang. Die totale getal ingeskrewe studente aan die Kollege in die jaar voor sy verhoging tot Universiteit, het 503 beloop. In dieselfde jaar het die doserende personeel uit 40 lede bestaan. Daarvan was 22 professore en 18 lektore.

Namate nuwe behoeftes in verband met die opleiding van studente ontstaan het, is daar aan die Universiteit van Stellenbosch nuwe fakulteite en afdelings gestig. Duisende mense het al op Stellenbosch gestudeer.

Bron: Universiteit van Stellenbosch: Historiese Agtergrond

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...