Friday 6 April 2007

INTERESSANTHEDE UIT DIE e-SAGI (1)

Lucas Rinken sal van hierdie maand af gereeld ‘n artikel lewer oor interessanthede uit die e-SAGI-databasis. Lucas is die drykrag agter die databasis. Die eerste artikel gaan oor:

CHRISTIAAN ROEDOLF/RUDOLF/RUDOLPH

Min voornaamkombinasies in Suid-Afrika is seker meer bekend as dié van die beroemde en geliefde generaal.

Generaal Christiaan Rudolf de WET (links) is gebore te “Leeukop”, Smithfield op 7 Oktober 1854 en op op 3 Desember 1854 in Smithfield gedoop Hy is op 3 Februarie 1922 oorlede te “Klipfontein”, Dewetsdorp en is aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

Waar kom hierdie voornaamkombinasie vandaan?

Sy vader, Jacobus Ignatius, gebore 13 Julie 1823, was die 9de kind van Johannes Marthinus de WET en Elisabeth Johanna OPPERMAN wie hul tweede seun na haar vader, Christiaan Rudolf OPPERMAN, gebore 2 Junie 1755, vernoem het. Hul eerste seun Johannes Marthinus is gebore op 24 November 1806, maar is jonk oorlede met die gevolg dat Jacobus Ignatius sy vierde seun na sy “ouboet” vernoem het.

Christiaan Rudolf OPPERMAN se vader was Godlieb Rudolphus OPPERMAN en dié se pa was Gotlieb Christiaan OPPERMAN.

Daar is toe afgesien van die naamgewingpatroon waar die tweede seun na die moeder se vader (Daniel BOCKELENBERG) vernoem moes word. ‘n Kombinasie van sy vader se tweede naam en ‘n verkorting van sy eie naam is deur Godlieb Rudolphus gebruik -- Christiaan Rudolph.

Interessant is dat sy suster hom egter voorgespring het. Sy was Anna Maria OPPERMAN, gedoop 7 Maart 1734 en op 10 Oktober 1751 getroud met Christiaan LIEBENBERG, gedoop 20 September 1728 en eerste kind van stamvader Christiaan LIEBENBERG. Dus nog ‘n bron vir die insluiting van Christiaan. Hul eerste seun, Christiaan Rudolph LIEBENBERG, gedoop 29 Maart 1755, het dus hiedie name gekry voor die OPPER-MANS. Hy is op 11 Mei 1788 getroud met Maria Magdalena BURGER en hul eerste seun, gedoop 5 Julie 1789, kry ook die name. Hy is seker vroeg dood, want hul tweede seun, gebore na ‘n dogter (dus die derde kind), was ook Christiaan Rudolph, gedoop 24 Junie 1792.

Ons databasis bevat nie minder nie as 139 persone waar hierdie kombinasies voorkom. Die vanne sluit in: BREEDT, BÜHRMAN, DE WET (insluitend een vrou), DRY, ERASMUS, GEEL, HARTMAN, HENNING, JANSE VAN VUUREN, LIEBENBERG, LOMBARD, MARÉ, MARITZ, NAUDÉ, OOSTHUIZEN, OPPERMAN, PIETERS, PRETORIUS, ROETS, ROOS, SNYMAN, THIRION, VAN DEN BERG, VAN DER WESTHUIZEN, en VAN GREUNING (GREUNEN).

Ons verneem graag van ander vanne waar dit ook voorkom. (Foto: www.sahistory.org.za)

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...